Thursday, 26 November 2009 07:13

Slawe en Bruinmense - Die Vrylating van 1 December 1834 Featured

Written by Professor Danny Titus
Rate this item
(0 votes)

This article by Professor Danny Titus was first published in the Beeld)

Op Dinsdag 1 Desember 2009 word die Vrylating van Slawe herdenk. ’n Optog word beplan van die Bokaap tot by die Parlement op 28 November 2009. 175 jaar gelede is slawerny in die Britse kolonies afgeskaf. Alhoewel die heuglike dag wêreldwyd verwelkom is, moes die bevryde slawe in Suid-Afrika nog ’n volle vier jaar wag voordat hulle ’n leerklerk termyn moes uitdien om hulle “fit for freedom” te maak. Fiks vir Vryheid, is ook die titel van John Mason se doktorsverhandeling waar hy onder andere die Bevrydingsdag as volg beskryf:

“Die hemele het geween op Bevrydingsdag. ...grys reën het die land oorspoel. Vir drie dae het die neerslag en koue voortgeduur: riviere het gevloei en sneeu het oor die skouers van die Weskaapse berge gehang. Dit was byna ’n geslag gelede dat daar sulke vreemde weer só laat in die seisoen ervaar is. Die leerklerke wie nou fiks sou wees vir vryheid, die bevryde mense, het dit verstaan. Die reën was God se trane, gestort vir die slawe wie in kettings moes sterf.”

Die slawerny is nie die slawerny van die Israeliete in Egipte nie, dis ook nie die slawerny van die swart Amerikaners nie. Dis die slawerny op ons eie Suid-Afrikaanse bodem, dis die voorouers van miljoene Suid-Afrikaners van vandag. Baie nader aan die huis, is dit die slawerny van my eie voorouers. Ek moes eers later in my lewe agterkom wat my verbintenis met die slawe van vanouds sou wees, en ek weet nog maar weinig. Die ander aspek van slawerny in Suid-Afrika wat so sterk uitstaan, is die vergetelheid daarvan. Behalwe vir enkele navorsers en skrywers soos André P. Brink, Prof. Richard van der Ross en Karel Schoeman hoor mens nie so veel oor slawerny in ons bevryde Suid-Afrika nie. Ons geheues is maar ’n bietjie kort en bowendien was die struggle teen apartheid só gefokus dat daar nie juis tyd was vir historiese ontledings nie. Dit kom nou so langsamerhand in. En tog, as mens eers begin krap vind jy die bronne oor slawerny in Suid-Afrika is enorm; kyk maar na die Iziko museums, die kerkargiewe, die werke van soveel navorsers. Ek was die week by die plaas Solms Delta tussen Franschhoek en Stellenbosch. Die eienaars van die landgoed skroom nie om hul slaweherkoms te erken nie en te probeer goed maak wat slawerny en eeue lange ontheemding meegebring het. In die promosie brosjure word melding gemaak van die Duitse familie Solms wie sewe geslagte gelede in die Kaap kom vestig het. Jare later het die ongeletterde Duitser Hans Silberbach en sy vrou Ansela van de Caab, die bevryde slavin, die landgoed aan ’n buurman oorgedra.

Die nuwe eienaar, Christoffel Snijman, alhoewel hy die buite-egtelike seun van ’n Indiërslaaf was, het weer ’n prominente kolonis se dogter getrou. Die familie uit hierdie huwelik het vir die volgende 42 jaar op die Delta landgoed gebly. En dit word dan ook die verhaal van slawerny en vermengdheid in Suid-Afrika, soveel ondertrouery en vermenging met mekaar dat weinig Suid-Afrikaner deesdae kan aanspraak maak op die “suiwerheid” wat die kolonialisme en die apartheidsideologie gekenmerk het. “Jy het verniet gestry, solank as die kind in die tjalie lê, dan lyk hy net soos jy,” sê die Afrikaanse liedjie. Ons sal gewoon ons slawegeskiedenis veel meer die nuwe Suid-Afrika moet indra. Pieter Dirk-Uys se gevleuelde woorde: Ons toekoms is lankal uitgesort, dis daai verlede wat so onseker is. En ja, ons het so ’n verskeidenheid van verledes, sommige word erken, ander is doelbewus uit die geskiedenis geskryf, ander is totaal onbekend. Hoe anders sal die “erwe van ons vadere vir ons kinders erwe bly”?

Prof. Richard van der Ross was die hoof van Battswood Opleidingskool, ‘n posisie wat sy pa voor hom beklee het. Dit was eers in 1980, skryf hy, dat hy die oefenskoolsaal genaamd Die  Martha’s Saal begin navors het. Dit het gelei tot sy boek The Black Countess. Die verhaal van die kreoolse Martha het die verhaal van Battswood geword. Die bevryde slawevrou wie in die 1800’s met Harry die Graaf van Stamford getrou het. Martha was soos talle slawe gefassineer met hul base en die se families wie so lank in boeke gekyk en tyd met boeke deurgebring het. Sy wou dit ook doen en ook verstaan waarom leesopvoeding en skoolgaan so belangrik was. Uit die wêreld van die slaaf was die geskrewe woord maar ’n vreemde affêre. In Amerika was slawe wie dit gedurf het om te probeer lees en skryf wreed daarvoor gestraf. Martha Grey, die Black Countess het egter ’n vermoënde vrou geword met sakevernuf lank voor sy Harry die graaf ontmoet het. Sy het die Battswood Opleidingskool ingestel en daardeur duisende laat baat deur die onderwys en opleiding wat hulle daar ontvang het.

Mens kan soveel haal uit die verhale van die slawe, suksesverhale soos die van Angela van Bengalen, die slawevrou wie in 1657 in die Kaap aangekom het. Sy het in 1720 as ’n welvarende vrou gesterf, met ’n huis en ’n tuin in St. George’s straat, ’n plaas en vee. Sy het die matriarg van die Bassons geword, Eva Krotoa die moeder van die Saaymans. Angela van Bengalen se dogter Anna Bergh (getroud met die Sweed, Oloff Bergh) was in 1733 die rykste vrou in die Kaap met talle huise, eiendomme en het die wynplaas Constantia van Simon van der Stel gekoop. En tog, kan die verhale nie die feit van slawerny versag nie, veral nie die impak wat dit op die Angelas, die Evas, die Annas en die Marthas gehad het nie. Dis so maklik om vandag in Kaapstad te loop sonder om aan die slawe te dink, hulle van wie die Kaap so vol was. Net so moeilik is dit om te glo dat dit die slawe was wie die tuiniers van die Kompanietuine was, die bouers en die skrynwerkers, die vissermanne, die kinderopassers en die straatveers. Ek lees in Herman Giliomee se boek oor die bruinmense van Stellenbosch, Nog Altyd Hier Gewees, dat die bruin slawevroue ook as soogmoeders vir hulle meesteresse moes optree.

Dit beteken die madam se babatjies moes aan die slawe soogmoeders dring sodat die madam nie so lank uit die sosiale kringe afwesig kon bly nie. Die stryd om die bevryding van slawerny is altyd as ’n stryd om menseregte beskou. Slawerny was immers dié gruwelike skending van menswaardigheid en fundamentele regte. Tog begin internasionale menseregte altyd by die Tweede Wêreldoorlog en weinig verwysings word na die stryd teen gewettigde slawerny gemaak. William Wilberforce, die anti-slawerny parlementariër het ’n gesant na Frankryk gestuur. Die gesant, John Clarkson moes in 1788 leer dat die Franse rewolusie wat pas die Verklaring van die Regte van die Mens en die Burger aangeneem het, het nie juis aptyt gehad vir die vryheid van slawe nie. Die eerste Franse anti-slawerny petisie sou eers jare daarna in 1844 kom, byna sestig jaar later.

Hier in bevryde Suid-Afrika is dit ook opmerklik hoe weinig oor ons slawerny gepraat word in ons regeringinstellings, die parlement en op politieke verhoë. “Da legacy of da past” gaan altyd maar oor kolonialisme en apartheid. Sal dit dalk ’n bietjie meer perspektief gee om ook die impak van die bevryding van slawe by te bring? Die Kaap was immers ’n samelewing van slawe, ’n samelewing gebou op slawe-arbeid. Die slawe het spoedig die Europese setlaars verbygesteek in getalle. Hulle het gekom as ballinge  oor die Indiese Oseaan, van die eilande van Indonesië, Maleisië, Indië en Ceylon, die Oos-Afrikaanse kus en die eiland van Madagaskar; ook van Wes-Afrika en Angola, en enkeles vanuit China of Japan.

Was hulle nie die bouers van Minister Tokyo Sexwale se Franschhoek huise nie; die wat hy sê, reeds meer as 300 jaar vasstaan teenoor die RDP (HOP) huisies wat deur die wolwe omgeblaas word binne maande? Het hulle nie ons eetgewoontes kom verryk met hulle kruies, kerries en boboties nie? Het hulle nie ons verknegting aan Hooghollands kom bevry en ons die vryer, kaalvoet taalkonstruksies van Afrikaans gebring nie? Was dit nie hulle bevryding uit slawerny wat ook die klok vir ons bevryding begin lui het nie? Of was dit maar ’n skynbevryding wat ons tot vandag met ons ronddra? Het ons die rassisme van vandag oorwin of sleep ons steeds die boeie en die kettings van slawerny, kolonialisme en apartheid met ons saam?

Die verhale van slawerny en hulle leefwyses word vandag stelselmatig opgeteken. Die bevryde slawe moes vier jaar wag totdat in 1838 hulle “fit for freedom” geag is. Daar word ’n klein optog verwag op 28 November 2009 in Kaapstad om die bevryding te gedenk. Daar sal maar min herdenkers teenwoordig wees. Miskien is ons nog nie fiks vir vryheid nie.