Tuesday, 17 January 2017 15:11

Boesman Myt se Vehaal Ondersoek Mensehandel en Moderne Slawerny Featured

Written by Ryan Swano
Rate this item
(0 votes)

Die storie van Boesman Myt is veel meer algemeen as wat mense besef en hoewel 'n mens later agterkom dat haar storie hom eintlik net so oor die twee dekades terug afspeel, hoor ons nog steeds so nou en dan 'n fluisterstorie of ons sien en lees flinkweg 'n klein koerantberiggie oor 'n soortgelyke geval hier op die Kaapsevlaktes.

Denver Lopez vertel die verhaal van een vrou maar Boesman Myt verteenwoordig ook 'n groot getal voorheen-landelike vrouens wie se stories almal as persoonlike geheimpies gedra word sonder om te kla. Baie van hulle het dalk nie onder dieselfde omstandighede in die Kaap beland nie en dalk moes hulle nie alles van dieselfde gruwele verduur nie maar dat hulle met alle soorte beloftes Kaap toe gebring is en dat hulle onmenslike werksomstandighede moes verduur is wat Boesman Myt hulle storie en ja, ook ons almal se storie maak.



Die storie is geskryf vanaf uit Boesman Myt se oogpunt sodat Sy eintlik haar eie storie vertel.
Dit is geinspireer deur Denver se ma, Lena Breda, wie op 19-jarige ouderdom uit Graaff-Reinet Kaap toe getrek het om werk te soek en dit wentel rondom die tema van trek-arbeid, mensehandel, slawerny, dwangarbeid en haweloosheid wat ondervind word deur mense wat uit landelike gebiede na die stede gelok word met beloftes van werk en 'n goeie lewe.

Hy het die E-book self op eie houtjie uitgereik en die enigste klein kweling wat ek met die boekie het is dat dit ooglopend is dat Denver self en dalk te haastig die redigering daarvan gedoen het.
Dit is mos maar so dat 'n mens, ek inkluis, moeilik jou eie foutjies sien, so tikfoute het deurgeglip, maar as jy na die eerste paar blaaie gewoond geraak het daaraan om hom te kan verstaan so tussen die klein foutjies deur, dan begin jy jouself inleef in Boesman Myt se verhaal.

Die storie het 'n baie goeie 'pace' en dit lees plek-plek soos 'n aksie-riller.
Die einde van die storie is ook vol aksie en die nadraai van alles is 'n lekker verrassing.

Mensehandel, dwangarbeid en moderne slawerny is vir meeste van ons iets wat gebeur in ander lande en as dit hier gebeur, dan dink ons aan jong meisies en kinders wat op die strate beland het of ontvoer was en daarna deur uitlanders gebruik word as seksslawe in oorbevolkte woonstelgeboue in die vuilste dele van een of ander middestad soos Hillbrow.
Mensehandel sluit egter ook die slawerny in van mense wat onder die indruk is dat hul 'n regte wetlikke werk gaan kry maar dan word hulle aangehou teen hul wil en hul vryheid van beweging word ernstig ingeperk.
Hulle word letterlik as slawe aangehou nadat hulle regte werk belowe was.

Employment ContractMin besef ons dat dit ook sommer hier tussen ons gebeur in die Kaapse Skiereiland.  
Meeste van ons sien die beroep van huishulp wees as 'n vrywillige kontrak tussen die huiseienaar en die werker en ja, ons land het nou arbeidswette wat huishulpe ook beskerm so ver as wat dit moontlik is en dit stel selfs minimum lone vas.



Dit lyk darem deesdae dat ons al nader na 'n punt beweeg waar die groot meerderheid mense wat in ryk mense se huishoudings werk as huishulpe, skoonmakers en tuiniers dit vrywillig doen en dit ten minste binne die raamwerk en beskerming van ons land se arbeidwette geskied.
 


Daar is egter nog steeds gevalle van slawerny wat onder ons neuse gebeur maar wat ons nie maklik kan oplet nie.
In die meer gegoede buurte van die Kaapsevlaktes is dit in baie van die gevalle welaf bruinmense wat hulself skuldig maak aan die vorm van slawehandel.


Dit wil nie sê dat ryk mense van ander bevolkingsgroepe in Suid- Afrika nie ook skuldig is aan die huidige praktyke van moderne slawerny nie.
Dit is immers oorspronklik deur witmense begin en is 'n uitgroeisel van die tyd toe slawerny nog wetlik was asook die Apartheidsjare toe witmense met ander kon doen wat hulle wil en daarmee wegkom sonder enige nagevolge.


Boesman Myt is egter spesifiek geskryf om die probleem aan die lig te bring van bruinmense, hoofsaaklik ryk bruinmense van Maleier herkoms, wat bruin meisies wat hoofsaaklik van Khoe-San herkoms is vanaf afgeleë landelike gebiede in diens neem as huishulpe en hulle dan aanhou as slawe.
Dit wil nie sê dat naastenby alle skatryk Maleier besigheidseienaars skuldig is aan slawehandel nie en ook nie dat alle dames van Khoe-San herkoms wat as huishulpe vir Maleiers werk enigsins slawe is nie.


Moderne slawerny word natuurlik ook nie beperk tot huishulpe, skoonmakers en tuiniers nie maar daar word ook mense teen hul wil aangehou om in fabrieke en ander besighede te werk.

Die hedendaagse slawehandel van veral jong meisies van die platteland word deur sindikate bewerkstellig en daar is mense van Khoe-San herkoms wat deel is van daardie sindikate en help om die meisies te kry vir die sindikate. Die meisies word ook deur kamma "employment agents" gewerf en daar word alle soorte valse beloftes aan hulle gemaak wanneer hulle "recruit" word.
Die bruinmense wat huishulpe soos slawe aanhou is ook nie noodwendig almal net van Maleier herkoms nie want daar was al gevalle waar hoewel hulle verreweg in die minderheid is, ook ryk bruinmense van Khoe-San herkoms ook mense wie van Khoe-San herkoms is, as slawe aanhou.
Dit gebeur nog steeds.

Die rede hoekom ek vroeër verder na bo geskryf het dat "dit ook ons almal se storie is", is omdat ons dit moet eien.
Ons kannie die tiepe dinge onder die mat vee nie.
Die grootmeerderheid bruinmense vanaf Maleier herkoms keur nie die vorm van slawerny goed nie en die grootmeerderheid bruinmense vanaf Khoe-San herkoms moet besef dat sulke dinge het gebeur en dat dit nog steeds onder ons neuse gebeur, maar ook moet ons weet dat die meerderheid mense wat vir Kaapse Maleiers werk nie as slawe aangehou word  nie.


Volgens my indruk is die doel van die storie dat ons moet besef dat saam as bruinmense van Khoe-San herkoms en as bruinmense van Maleier herkoms moet ons sorg dat hierdie dinge wat in Boesman Myt se verhaal plaasvind nooit meer mag of kan gebeur nie.


Denver bring 'n baie nagelate aspek van ons samelewing onder ons aandag en hy sê hy het nog sommer heelwat ander issues om oor te skryf.
Hy erken ook graag dat hy moet met sy toekomstige stories seker maak dat die redigering daarvan professioneel deur iemand anders behartig moet word.


Die storieskrywery vat tyd en gebruik hulpbronne, so ek dink dat die R30 wat hy per afskrif vra spotgoodkoop is.
Deur jou afskrif van Boesman Myt te koop kan jy help dat hy volhoubaar voort kan gaan om ewe-belankgrike stories in die toekoms te kan skryf.
Hy is reeds besig om te werk aan sy volgende skryfstuk genaamd 'Kakkerlakke Wat vlieg; en dan beplan hy ook 'n Khoe-San skrywers Naweek.


Vir besonderhede oor hoe jy jou afskrif van Boesman Myt kan kry teen net R30, kan jy Denver direk kontak op This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. en paaiemente kan of per EFT, E-Wallet of via Shoprite gedoen word.