Monday, 21 August 2017 17:18

Terug Na Toeka Featured

Written by Bernard Fielies
Rate this item
(0 votes)

TERUG NA TOEKA

GEDIG DEUR BERNARD FIELIES

 


terwyl ek nou na toeka t'rugkeer
en gelei word deur gister se geur,
voel ek vroeër se vrede sonder vlek,
met eerbied, rustigheid en respek...

huisie bouvallig, lekkende dak
was met liefde aanmekaar gelak...
in 'n twee-vertrek, gesin van tien;
God het geseën...gereeld voorsien...

kombuis rakke akkuraat versier
met patroon-geknipte koerantpapier...
opgeknop, maar alles op hul plek;
die "doilies" het amper alles bedek...

die primus se prik wil ek weer hoor,
die houtstoof se knetter wat bekoor...
na tuisgebakte brood word ek gevat,
stampmielies-en-bone met soetpatat...

na die stofstrate se speel opsoek;
my kaalvoetdae se "cowboy-and-crook"...
kennetjie, drie-kring, "hide-and-seek"
en selfgemaakte spel en "truuk"...

kon nie grootmense se "tande tel",
geen teëpratery vir raas en skel...
met goeie maniere elke maal
was "asseblief en dankie" eerste taal...

sommige male ook mooi gelyk;
met "Kammeline" hare platgestryk...
ons klere min, maar nooit gekla;
kon my safari pak net Sondae dra...

ons kon nét piksoen by die opsitkers...
my nooi se pa bly op sy tande kners;
bevrees probeer in die voorkamer vry,
maar nege-uur moes ek my ry al kry...

van verlede se voeding nooit vergeet;
net van toeka se tafel wil ek eet;
nóú se menu het min om aan te smul;
sukkel om hede se honger te stil...

LEES OOK Bernard Fielies se gedig: Januarie-Droogte

Read 1477 times Last modified on Monday, 21 August 2017 17:46

Leave a comment

Make sure you enter all the required information, indicated by an asterisk (*). HTML code is not allowed.