Tuesday, 14 June 2022 20:45

Vannie Kuila Se Skiem Tot Binne Innie Boardroom Featured

Written by
Rate this item
(0 votes)
Jacques du Toit, voorsitter van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) se direksie Jacques du Toit, voorsitter van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) se direksie Foto Verskaf

Ons is wel 'n bietjie laat met ons gelukwense, maar ons is geweldig trots op Jacques du Toit wie onlangs gekies is as voorsitter van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) se direksie. Ons hier by Bruinou.com waardeer ons lang verbintenis met Jacques du Toit opreg. Die pad wat ons die laaste vyf jaar saamstap wentel rondom 'n verskeidenheid van velde en dissiplines wat strek van die uitvoerende en visuele kunste, tot by film, linguistiek en die letterkunde. 

 

Deur die Bruinou.com-verbintenis het Jacques nie net ons blik op kultuur, die politiek en sy sosiale betrokkenheid met verskeie NRO-projekte verbreed nie, maar ook sy menswees met ons gedeel.

 

Wie is Jacques du Toit?

Jacques is ‘n voormalige akademikus, en het verskeie taal- en bestuursverwante kwalifikasies agter sy naam; onder andere 'n honneurs van die UWK, 'n PGDip van die US, 'n meestersgraad van die US en 'n MTEL (CAS) van die Carl von Ossietzky-universiteit in Duitsland. Veeltalig in sy studies in Afrikaans, Engels, Duits, Frans en Nederlands, het hy ook verskeie leierskapsposisies geklee, waaronder voorsitter van die Higher Education Learning and Teaching Writing Centre Special Interest Group, direksievoorsitter van die Association for Visual Arts in Kaapstad, en tans die direksievoorsitter van die Pride Shelter Trust in Kaapstad.

 

Buiten sy agtergrond in leierskap en sosiale media, is hy al 22 jaar lank by hoër onderwys betrokke, en hy is passievol oor die voorbereiding van Afrikaansonderwysers vir die praktyk. Sy kennis rondom die gebruik van taal in die digitale era, strek verder as slegs sy nagraadse kwalifikasies.

 

Vinnige feite rondom Jacques

  • Jacques het in 1994 aan Sarepta Sekondêre skool in Kuilsrivier gematrikuleer.
  • Beide sy ouers is oorlede in sy tienerjare, en op 18 beklee hy vier deeltydse poste om vir sy universiteitstudies te betaal.
  • Hy voltooi sy eerste graad met hoofvakke in Afrikaans/Nederlands, Duits en Engelse Linguistiek, met Frans as byvak. Vir drie agtereenvolgende jaar (1998, 1999 en 2000) ontvang hy die Algemeen Nederlands Verbond en Van Ewijk Stigting se streekstoekennings vir sy uitstekende prestasie in Nederlands, onder leiding van sy mentor, Professor Wium van Zyl.
  • As deel van ‘n persoonlike uitdaging in 2016, rig hy ‘n groep universiteitstudente in digitale en sosiale media af - en behaal die eerste plek in Suid-Afrika en derde plek in Afrika, uit 10 000 inskrywings wêreldwyd.
  • Hy is tans besig met die samestelling en opskryf van twee Massive Open Online Courses (MOOCs) en verskeie Open Educational Resources (OERs) as deel van ‘n akademiese projek wat mense wêreldwyd gratis aanlyn toegang tot onderwyshulpbronne gee.
  • Vanweë sy sterk internasionale profiel, word hy deel van twee Kaapse beoordelaars wat die Mr Gay World 2020 en 2021 in Suid-Afrika kroon.
  • Hy studeer tans in Duitsland.

 

Afrikaans vs Afrikaaps

Met Afrikaanse inhoud, insluitend Afrikaaps en ander streeksdialekte wat die laaste paar jaar bestendig groei, ook op ons webwerf, wou ons by Jacques weet of daar tog hoop is vir insluiting van Afrikaaps en ander dialekte in Afrikaans, siende dat daar maar nogaltyd 'n indruk was dat daar teenkanting vanaf taalpuriste is.

 

 

“Natuurlik! Ek dink daar is verskeie wanopvattings rakende Afrikaans. Afrikaaps en ander streeksdialekte hoef nie by Afrikaans “ingesluit” te word nie, dit is Afrikaans. Ek het in Afrikaaps grootgeword, ek het liefde daardeur geken, dit het my identiteit gevorm en my stem versterk. Dit het my bemagtig om veel meer tale aan te leer, juis omdat my dialek en identiteit vir my ‘n sterker basis gegee het. om nuwe wêrelde aan te pak én verskille in navorsingsirkels en in raadsale te kan maak.”

 

“My termyn as direksievoorsitter by VivA is vir twee jaar, en ek wéét dat ons kollektiewe visie by VIvA iets waardevols kan meebring. VIvA is ‘n sterk span, en as deel van ons leerondersteuning, sal ons taal, identiteit, digitale toegang en sosiale konteks in ag moet neem om die lewe vir ander makliker te kan maak.”

 

 

Jacques du Toit, nuve voorsitter van VivA se direksie (L)  en Ryan Swano van Bruinou.com (R) by 'n boek-bekendstelling in Kaapstad - Foto: Fifth Element Live

 

Bruinou.com is trots op Jacques

Jacques is welbekend as 'n leierskapstrateeg vir verskeie NRO's en projekte in Kaapstad. 

Die uwe Ryan Swano het Jacques in persoonlike en besigheidshoedanigheid leer ken, en as die verteenwoordiger van Bruinou.com verleen ook gereeld steun aan die NRO-projekte waarby Jacques tans betrokke is.

 

Met sy belangstelling in studenteontwikkeling, sosiolinguistiek en digitale leer, en sy gepaardgaande kennis en bydraes tot die ontwikkeling van die kunste op verskeie vlakke, glo ons Jacques is reg geposisioneer om met sy VIvA-span 'n meer inklusiewe én ‘n meer toeganklike instansie te maak wat aanklank vind by alle mense

 

Ons is al 'n geruime tyd bewus daarvan dat Jacques op VivA se direksie dien, en ons by Bruinou.com is opgewonde om in sy nuwe hoedanigheid saam met hom te kan werk, en ook om ‘n bydrae te kan maak tot Jacques en VivA se planne vir die ontwikkeling van digitale hulpbronne vir Afrikaans.


Veels geluk, Jacques!
Ons is trots om ons met jou te vereenselwig!

Leave a comment

Make sure you enter all the required information, indicated by an asterisk (*). HTML code is not allowed.